Om die Quran te brand of nie

deur Francois Rauch, Mosambiek
Ek ry stadig deur die rooi poeierstofstrate van Quilemane in Noord-Oos Mosambiek, en nadat die tiende Moslem my groet wonder ek by myself, “Wat maak ek hier?”, “Is ek in die leeukuil gegooi?” Maar ek onthou die kreet van ’n predikant wat my met groot oë aangespreek het: “You have to come, our Mozambiquean Muslim brothers need Jesus. They need to personally meet Him, please.” Hierdie predikant se smeekwoorde tref my steeds diep. Hy is lief vir sy mense.
Intussen loop ek deur die vuil strate met sy talle verwaarlose geboue om die mense beter te leer ken. Tientalle Moslem-winkeltjies begroet my – ’n kaleidoskoop van kleure, produkte en speserye. Almal nooi my in en ou tannies met kopdoeke groet my vriendelik, maar hou my agterdogtig dop. Ek ontmoet vir Achmed, seker die vriendelikste jong man wat ek in ’n lang tyd gesien het. Hy glimlag van oor tot oor, en ek skat hom in sy middel twintigs. Ons gesels lekker oor alles, en dan verander sy oë: “Are you a Christian?” Sonder om te dink, antwoord ek hom vinnig: “Yes!”
Achmed reageer toe deur te skree: “Get out of here, you are the one’s burning our holy Quran!” Ek probeer toe antwoord, maar ek was onbewus van die Amerikaanse gemeente wat onderneem het om die Quran te verbrand as weerwraak teen die 9/11-terroriste aanvalle. Achmed se hele familie wys my toe vinnig die deur.
Vyf-en-dertig predikante wag my in met groot glimlagte, en hulle harte is groot. Hierdie predikante wil hoor hoe Quilemane se tienduisende Moslem-inwoners bereik kan word met die Goeie Nuus van Jesus. Sonder arrogansie, en sonder om al die antwoorde in hulle keelgatte af te dwing. Net in liefde.
Dit is egter effe moeiliker op die strate. Ons word met die dood gedreig, maar honderde staan steeds nader om die boodskap van Jesus te hoor. “Wie is Hy as Hy nie ’n profeet is nie”, lag van die skare. Ek stap weer by Achmed se winkeltjie verby en nooi hom vir ’n koeldrank. Ons gesels oor baie dinge, en oor Jesus. Ek groet hom met ’n druk en onverwags ruk hy soos hy huil. “Do you think Jesus loves me?” sê hy sag in my oor en hardloop die winkel binne. Ook hy vrees vir sy lewe, besef ek, en stap weg in die poeierstof strate van Quilemane.

Die weeklikse bymekaarkomgeleentheid van die MIV-ondersteuningsgroep in Kayamandi is alles behalwe ’n sombere affêre. Alhoewel dit steeds ’n veilige ruimte is waarin groepslede persoonlike ervaringe kan deel, neem hierdie groep deurlopend deel aan skeppende aktiwiteite wat tot hul eie verryking bydra. Bo en behalwe Bybelstudie en inligtingsessies, hou hierdie dinamiese groep hulself ook besig met kreatiewe handewerk, borduurwerk, vaardigheidsontwikkeling en kursusse.
Lynelle Pieterse, wat al ’n geruime tyd by die MIV-ondersteuningsgroep se gemeenskapsprojekte betrokke is, vertel dat die groepslede die kostes van vier maande se middagetes kon dek deur die verkoop van hul skeppings: “Verlede Kersfees het hulle handgemaakte hartjies met groot sukses na afloop van Stellenbosch Gemeente se eredienste verkoop. Hierdie inkomste het vier maande se middagetes vir die ondersteuningsgroep gekoop!” Die handgemaakte harte is nou by Local Works in Stellenbosch, en by Heartworks in Kaapstad beskikbaar.

Vrywilligers het ook die afgelope jaar kursusse aangebied waarin die groepslede geleer is om te borduur en armbande te maak. Volgens Lynelle het Nelia Hoogenhout, van die JOY bracelet projek en Beads restaurant , ’n groot skenking gemaak wat gehelp het om die kursusse van stapel te stuur. Na afloop van die hierdie kursusse ontvang elke individu boonop ’n sertifikaat. Uitblinkers kry deur middel van hierdie kursusse ’n verdere geleentheid om formele kursusse te volg waarna hulle stikwerk kan doen om hul eie inkomste te genereer.

Indien jy belangstel kan jy op die volgende maniere ’n betekenisvolle bydra lewer tot die groei van hierdie MIV-ondersteuningsgroep: raak betrokke op Dinsdae (met die MIV-ondersteuningsgroep en handwerk) en Donderdae (met die kursusse); kom deel jou naaldwerk-, borduurwerk- of beading-vaardighede met die groep; skenk katoen-lap; skenk fondse vir die skep van ’n effektiewe projekbestuurder-pos.
Die bemarking van die kreatiewe kunsprodukte is noodsaaklik vir die groei van die MIV-ondersteuningsgroep. Hierdie Kersfees sal die handgemaakte harte weer tydens Stellenbosch Gemeente se eredienste verkoop word in ’n poging om die R5-maaltye te befonds. Ondersteun gerus hierdie inisiatief!
(Intussentyd het Nicky ’n Disabled support group by die Kuyasa-sentrum in Kayamandi gestig en twee kursusse hier geïnisieer. Lees ook meer oor die JOY bracelet projek by www.joybracelet.co.za en in die September uitgawe van Lig)
Navrae: Louise Fourie – louise@sg.org.za | 021 886 6883

Hallo Vriende

Ek stuur graag weer bietjie nuus vanaf Morgenster Sendingstasie.

Die afgelope twee maande was vir my die grootste uitdaging tot nou toe.  Aan die begin van die termyn (2 September) was ons net 2 van die 5 dosente hier, en het my eie  akademiese en administratiewe verantwoordelikhede verdubbel.  Verder is ek al sedert die einde van Augustus tot nou toe die enigste Suid-Afrikaner wat hier op Morgenster werk, wat beteken dat ek vinnig moes leer om vir myself te sorg en vele uitdagings vinnig baasraak – en baie meer kennis opdoen van die mense en omgewing!  Die lewe raak afgesonderd met jou tuisland so ver weg, veral binne so ‘n heeltemal-vreemde kultuur. 

Die Murrays, by wie ek die eerste deel van die jaar gewoon het, is steeds in SA waar ds. Henry herstel na ‘n heupvervanging en ernstige Malaria.  Ons is dankbaar dat hy goed herstel en hul hoop om binnekort terug te wees.  Bid asb. vir hul gesondheid en veilige reis.

Twee uitreikgroepe het ons onlangs besoek en kosbare rekenaartoerusting, kos en klere gebring.  Ons is baie dankbaar daarvoor.  My ouers het ook paar dae hier gekuier en dit was lekker om geselskap en versorging te hê.

In die middel van September het ek vir ‘n naweek vinnig afgevlieg vanaf Harare na ‘n sending-konferensie in Jeffreysbaai.  Ek moes Morgenster verteenwoordig namens ds. Murray en ook twee lesings aanbied.  Een van die lesings was getiteld “die posisie van die kerk in ‘n vervalle staat” en ek moes heelwat navorsing doen onder die plaaslike kerkleiers.  By die konferensie was daar baie ervare en gesoute sendelinge en ek was by verre die jongste, maar alte dankbaar vir die vinnige wegbreek Jeffreys toe.

Laasweek het ons lesings amptelik klaargemaak en eerskomende week begin al die studente met hul eindeksamens.  Ons was die laaste tyd dus besig met hersieningswerk in die klas.

Die finalejaar-studente is nou al die afgelope paar weke besig met hul proefpreke. Deur die week sal ek soms lank met hul sit en deur hul teksgedeeltes werk, en op Sondae sal ons dosente na kerk vir ure vergader om die preek te evalueer.  Dit is ‘n verrykende ervaring om te hoor hoe almal vanuit verskillende vakgebiede (en kulture) deelneem aan so ‘n evaluering.  Bid asb. vir hierdie studente en hul pad vorentoe.

Weens die proefpreke hier op Morgenster kon ek die afgelope maande nie meer gaan  preek in die NG kerkie op Masvingo nie, bid asb. vir hul werk.

Ons elektrisiteit is steeds baie onvoorspelbaar en soms is dit vir dae aaneen af.  Ons het ook heelwat probleme met water.  Ek moes nou gereeld na die naaste dorp ry om noodlenigings-voorraad te koop (noudat ek die NG Kerk se fondse ook moes hanteer) en is dankbaar om te sien dat daar darem heelwat basiese kosvoorrade beskikbaar is op die rakke.  Drie weke gelede het ons ‘n bees geskenk gekry wat ons kon slag, en ek het gelukkig paar kilogram vleis gekry.

Ek is baie moeg en pootuit na die laaste twee maande se harde werk, min slaap en kitskos.  Ek dink mens raak ook vinniger uitgeput as jy so alleen werk – en dit was ook die tyd waarin ek die meeste persoonlike uitdagings deurgegaan het.  Die hooploosheid van die wêreld hier haal mens in en jou vrae weeg swaarder.  Dit was egter ‘n besondere tyd van groei en baie keer voel dit of my worstelinge, die tipe worsteling wat mens mank laat (soos Jakob), niks anders is as ‘n worsteling met die eindste engel van die Here nie.  Die tipe tye wat jou los met ‘n seëning en ‘n nuwe naam – asof jy deur dieselfde oë kyk maar die wêreld lyk heeltemal en onherroeplik anders.  Alles het verander.

Die studente skryf nou eksamen tot die begin van November.  Daar is nog enkele dinge wat by die kollege moet gebeur, en dan is ons gradeplegtigheid en jaarafsluiting op 18 November.  My grootste uitdaging is om ‘n goeie en deeglike kurrikulum op te stel vir my opvolger.  Verder werk ek ook aan ‘n (Nuwe Testament) afstandsonderrig bybelstudiekursus vir die Reformed Church in Zimbabwe, ‘n uitdaging wat my nog ‘n hele ruk gaan besig hou.

In November gaan die Raad van die kollege ‘n voltydse aanstelling maak vir ‘n NT-dosent om my te vervang.  Bid asb. vir hul besluit – vroeër vanjaar is ‘n kortlys reeds opgestel.

Gedurende Desembermaand gaan ek kuier vir ‘n goeie universiteits-vriend, Andrew Murray, in Suid-Korea.  Aanvanklik sou ek gaan help om daar klas te gee, maar dit is nie meer nodig nie – nou gaan ek net kuier.  Ek het nog nie sekerheid oor my eie planne volgende jaar nie, maar ek hoop om darem in Suid-Afrika te wees.  Ek wil ook deeltyds verder studeer in Nuwe Testament – na hierdie jaar het daar vir my baie nuwe velde van kennis oopgegaan, maar terselfdetyd ook baie diep en onbeantwoorde vrae.  Bid asb. vir my toekomsplanne.

Dan sluit ek sommer af met bietjie persoonlike goeie nuus (want met wie anders gaan ek dit tog deel?).  Onlangs is ek deur Stellenbosch Universiteit in kennis gestel dat hul hierdie jaar die ‘Rektorstoekenning vir Uitnemende Prestasie vir Leierskap’ aan my gaan toeken.  Blykbaar kan ‘n student dit nog ‘n jaar na jou studies voltooi is, ontvang.

Hou asb. aan om te bid vir ons werk hier in Zimbabwe, vir die kerk hier in Zimbabwe en ook vir die regering in Zimbabwe.  Die politieke spanning loop weereens baie hoog, maar laat ek liewer nie uitbrei nie.  Toe ek onlangs in Harare was, is ek weereens blootgestel aan die verskriklikste stories wat steeds  ‘agter die skerms’ afspeel. 

Bid ook asb. vir my, ek sal nie kan oorleef daarsonder nie.  Mag dit ook goed gaan met al die uitdagings daar in jul land. 

Ek is nog hier tot 18 November, wanneer ek die 2500km tog wil aanpak Kaap toe met my Citi Golf.  Ek sal darem nog ‘n laaste nuusbriefie uitstuur voor ek vertrek.

Liefde

Poot-uit Roelof

« Older entries