February 2009

You are currently browsing the monthly archive for February 2009.

Deur Theo Geyser

Dinsdag was vir my en Wilma baie spesiaal. Lucca, ons seun van amper sewe maande oud, het sy eerste lectio divina saam met die personeel van Stellenbosch Gemeente bygewoon. Lectio divina beteken letterlik goddelike lees. Die eerste gelowiges wat Jesus probeer volg het, het die Bybel so gelees. Hulle het nooit gedink om die Skrifte te oorwin met hulle interpretasies of insigte nie, maar het eerder gewag op die bewegings wat die Heilige Gees deur die Skrifte in hulle harte bring sodat hulle Jesus beter kan volg. Daarom het hulle saam gelees, gemediteer, gebid, en nadenke oor die Skrifte beoefen. Lucca het tydens die voorlesings en saamlees net geluister. Tydens die stilword het hy ook net geluister – dit opsigself is ‘n wonderwerk! Nadat Wilma iets gedeel het oor wat sy ervaar het, het Lucca losgetrek met sy insigte! Hy kon nie ophou saampraat nie!

Die aand het ek hieroor nadink en so begeer dat Lucca ook eendag saam met ander mense deur die Skrifte sal soek na wat dit beteken om Jesus te volg. Ek kan kerk nie anders as hierdie strewe verstaan nie. Tog lyk dit asof dit nie meer ‘n groot strewe of waarde by ouers of kinders nie. Ek raak benoud, veral as ek kyk na my vriende en hoe hulle kinders vandag dink oor wat kerk is en waarmee die kerk besig is. Daar is ‘n kwynende waardering en ‘n groeiende vyandigheid. Stuart Murray, ‘n teoloog in Brittanje, skryf die volgende:

…the Methodist Church will have zero membership by 2037, the Chruch of Scotland will close its last congregation in 2033, and the church in Whales wil be unsustainable in 2020…

Ek is terdeë bewus van al die gesprekke wat poog om die kerk te red en ‘n nuwe waardering vir mense te gee. Van Verantwoordelike Vernuwing tot Opkomende of Ontluikende kerke. Soms vuur ons ‘n verkeerde waardering vir kerk aan. Indien ek WP–rugby ondersteun omdat Percy so mooi is, is dit die verkeerde waardering. Die probleem is egter indien Percy ophou speel dan sal my liefde vir WP-rugby nie meer daar wees nie! Kerk werk ook nie anders nie.

Ek wil my kinders leer dat Jesus nie net sy lewe vir sondaars gegee het nie maar ook vir sy kerk.

Daarom wil ek hulle ook die gevare van ‘n verkeerde waardering vir die kerk leer.

  • Ideologie: Waarom wil mense so gou weet in watter kerk jy is? Is dit om betroubaar te kan oordeel of iemand reg of verkeerd is? Denominasies verteenwoordig die leerstellings of ideologie van kerke. Indien jou waardering gaan oor die feite waarin jy glo en dat jy so reg glo – dan is dit ‘n narsistiese waardering. Die woord afgodery (idolatry) en Ideologie (ideology) kom van dieselfde Griekse woord eidos wat essence of wese beteken. Afgodery kan verstaan word as enige poging wat ons maak om die wese van God toeganklik te maak deur ‘n estetiese voorwerp. Ideologie is ook nie iets anders nie. Die een reduseer God tot fisiese objek en die ander tot ‘n intellektuele objek.
  • Empire: Hiermee bedoel ek pure mag. Mag is onafwendbaar waar daar seën en vooruitgang is. Enige mens word betower met voorspoed. Daarom is die versoekings van groot kerke soveel groter. Die koningin van Skeba het haar bekeer en die God van Israel aanbid nadat sy Salomo se wysheid gehoor en die tempel gesien het (i Kon 10:4-9). Dit is ‘n tragiese verhaal. Sy bekeer omdat die empire haar beïndruk – die slawe, die kos, die geld, die geboue en veral Salomo se trappe na die tempel! G’n wonder Jesus vertel hierdie verhaal en sê: Meer as die Salomo is hier! (Matt 12:42).
  • Verbruikerisme: Ons sien die kerk as die verspreider van goedere. Preke, aanbidding, projekte en geboue het produkte geword. Net soos die wêreldbehepte verbruikerisme wat jou oortuig dat jy nie sonder die nuutste motor kan klaarkom nie belowe die kerk jou ook net die oorspronklike en die ware. Dan skep die kerk ook sy eie gospel-kultuur en kompeteer teen die produkte van die wêreld soos Ds Cliff Richard gesing het: Why should the devil have all the good music!

Terug na Lucca. Ek wonder wat moet verander dat ons dalk soos die eerste Jesus-beweging kan leef wat in guns was by die hele volk (Hand 2:47)? Ek wonder wat sal kerk oor 17 jaar vir Lucca beteken? Sal die koeël deur die kerk wees – of sal die kerk weer met koeëls van genade kan leef…?

Ballingskap

deur Theo Geyser

Suid-Afrika is in ballingskap. Ballingskap beteken om jou natuurlike tuiste geforseerd, óf vrywillig te verlaat. Ons geskiedenis is ‘n storie van ballingskap. Onder die apartheidsregering moes baie mense uit die land vlug in die hoop vir ‘n beter tuiste. Vandag word duisende bannelinge wat ‘n tuiste in Suid-Afrika soek, ontnugter deur vreemdelingehaat. Al die mense wat die land verlaat het, en wil verlaat, vertel stories van ballingskap.
Ballingskap gebeur nie net fisies met ons nie, maar ook emosioneel en geestelik.

Ballingskap is gevaarlike tye. Dit is die tyd van wat was en nou is. Mense word slagoffers en gestroop van dit wat vir hulle kosbaar is. Vir party is dit ‘n tyd van onreg en verbittering, en soms word die slagoffer se onskuld gebruik om sy boosheid te regverdig. Vir ander is dit weer ‘n verlange na die goeie ou dae. Nostalgie kan ‘n goeie ding wees, maar as dit gebruik word om die werklikheid te ontvlug, dan word nostalgie ‘n vyand. Stories van verbittering en nostalgie word daagliks in Suid-Afrika vertel.

Dit is die stories waaroor ek as pa besorg is, want baie van die stories maak my kinders bang en negatief oor Suid-Afrika. Hulle kan nie terug verlang na iets wat hulle nog nooit geken het nie en nog minder kan hulle identifiseer met ‘n verbittering in die land wat geen respek vir lewe het nie. Ek dink baie aan my kinders se toekoms en hoe dit ons sal raak indien hulle emigreer. Hulle het die voorreg om te studeer by US en dink nou meer as ooit oor hulle toekoms, en veral waar hulle hul toekoms wil deurbring. Die gesprekke is onvermydelik en lê op ons agenda. Ons probeer positief bly, ons lewe te gee vir ‘n nuwe Suid-Afrika en agente van versoening te wees.

Ons lewe met hoop, maar soms beskaam die hoop. Verlede week is Carissa, my dogter, in die mooie Stellenbosch aangeval deur drie booswigte nadat sy gaan hardloop het. Sy het genadiglik pepperspray gehad en kon twee van die booswigte daarmee bykom en het ongeskonde daarvan afgekom. Ons was so dankbaar dat die Here haar lewe gespaar het, maar ek sal oneerlik wees as nie vertel hoe vrees, negatiwiteit en woede ook tot die dialoog toegetree het nie. Hierdie trauma het ons soveel meer laat praat oor ons eie nietigheid, wie ons is, en hoe ons behoort te lewe in die Suid-Afrika waarvoor ons so lief is.

Wat ons wel in hierdie moeilike tye ervaar is nie soseer kitsoplossings of kunsmatige antwoorde of die goedkoop vergeesteliking van die harde werklikheid nie, maar ‘n diepe identifikasie met die stories van mense wat ook bannelinge was. Hulle het ook in gevaarlike tye geleef. Die Bybel is ‘n boek wat in ballingskap geskryf is (586 vC en 70 nC met die vernietiging van die tempel). God skryf briewe aan ons in ballingskap. Dit is die briewe wat ek en my kinders desperaat soek. Bannelinge het geglo in hoop teen hoop. Hulle kon vergewe, liefhê en het soms die hoogste ideale geleef te midde van ballingskap. Dink maar aan Moses, Josef, Danïel, en die res. Hulle was ook lig in ballingskap.

Dit is mense wat geglo het te midde van en nie ten spyte van nie. Net hierdie wete maak ons bewus van nuwe moontlikhede waarmee ons kan leef.

Ons lewe nie met lysies van bly of gly (emigreer) uit die land uit nie. Dit is belangriker om te weet wat het geloofsmense in ballingskap gedoen. Om Jesus te volg beteken dat ek ook in ballingskap sal leef ongeag die land waarin ek woon. Hy word immers gebore in ‘n stal, leef as vreemdeling met geen plek om Sy hoof neer te lê nie, word gevolg deur bannelinge, en sterf as ekstreem banneling met die woorde: My God, my God waarom het U my verlaat?

My volg van Jesus beteken nie ‘n vrywaring teen ballingskap nie, maar eerder ‘n identifisering daarmee.
Ons bid en wag op nuwe beelde en drome vir ons lewe en ons land. God gee nuwe liedere en kuns in ballingskap. Jes 42 is ‘n stuk poësie wat God aan Israel in ballingskap gegee het om te sing. Jesaja vervang die beeld van God as Krygsman (oorheersende beeld in die monargie) met ‘n vrou wat baar. In ballingskap is God besig om geboorte te skenk aan ‘n nuwe wêreld waarop ons kan hoop. Ons wil saam met God hierdie geboortes ervaar en droom dat Suid-Afrika geheilig kan word deur gebed en liefde.

Leeswerk
Lees die volgende gedeeltes oor Jesus as banneling en bespreek dit met jou kinders. Waarom kry ons nie hierdie beelde van Jesus in ‘n kinderbybel nie? (Jes 42:1-16, Matt 3:3, Matt 8:20, Joh 6:15, Matt 27:46, Matt 12:10-21, Luk 12:40, Luk 4:1, Mark 3:21, Fil 2:7-8)

‘n Naam in die Hemel

Deur Theo Geyser

Om name vir kinders te gee is nie maklik nie. Die afgelope tyd moes ek en Wilma deur só ‘n oefening gaan omdat ons ‘n nuwe kleinding ryker geword het. Ons almal wil mooi name kies. Familiedruk maak dit nie maklik nie. Elke oupa en ouma wil ook hulle name in kleinkinders sien voortleef. So is ek dan Daniël Theodorus gedoop. My oupa sou trots gewees het, maar ongelukkig is hy oorlede voor my geboorte. Behalwe met formele plegtighede het nog niemand my op my volle name genoem nie. Ons huishulp in Vryheid het my Thula genoem en so ook baie van my familie tot vandag toe. Thula beteken:Bly stil – ek het glo baie gepraat. Sommige familielede wat deur my ouma as upstairs beskou is, het die Th in Theo uitgespreek soos die Engelse dit doen. Op die platteland het dit soos ‘n ander naam geklink. Vandag is ek Thula, Theo, Theo, Daniël Theodorus en soms selfs Gysie. Ek hou van almal, maar ek moet sê, dit voel vir my asof Theo eintlik my naam is.

My kinders, Carissa en Milan het ook name bygekry. Milan word Mielies en Boerrie genoem. Carissa word weer Vissa of Bokka genoem. Lucca is 8 weke oud en meernamigheid sal ook sy voorland wees. En soos dit met name is, voel my kinders oor party name goed en oor ander minder goed, maar daardie name wat betekenis aan hulle lewe gee, sal die naaste aan hulle harte wees.

Ek hoop dat my kinders eendag kan ontdek dat die hemel ook betekenis aan hulle name gee. Hulle moet weet dat hulle name in die hemele geskrywe staan.

Ek praat nie hier van ‘n kits evangelie–resep wat ons kinders moet glo om in die hemel te kom nie. Ek praat van ‘n antieke geloof en manier van lewe waarmee Jode in die Ou- en Nuwe Testament geglo het. Iets waarin Jesus ook geglo het. Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is (Luk 10:20). Jode het geglo dat hulle name in die boek van die lewe staan (Ps 69:28), in die hemel neergeskryf en selfs uitgewis kan word (Deut 9:14). Name word in God se hand gegraveer (Jes 49:16). Hy verlang en roep na ons naam (Jes 43:1). Hierdie beelde of metafore het Jode gehelp om te verstaan dat God ook geloof in die mens het. Daarom is ‘n ware identiteit slegs die bevestiging van dit wat ons reeds by God ontvang het.

Indien ons kinders nie weet dat hulle name in die hemel staan nie, sal hulle hulle lewe gee om ten alle koste ‘n naam op die aarde te maak. Dan lewe jy eintlik naamloos en jou lot is naammaak.

Sonder betekenis moet ons harder veg teen die sinneloosheid van probeer. In die Griekse mitologie is die storie van Sisiphus vertel om te wys hoe belangrik betekenis is. Hy is gestraf deur die gode en moes elke dag ‘n groot klip teen ‘n berg oprol. Tevergeefs en magteloos kon hy nooit die klip tot bo kry nie. Sy naam het sinoniem met betekenisloosheid geword.
Naammaak of die strewe om die perfekte selfgemaakte man of vrou te wees, is sinneloos. Hierdie strewe gaan gewoonlik gepaard met toksiese lewensgewoontes soos kompetisie, jaloesie, oor-afhanklikheid, vergelykings en kompromieë. En alles net om te wen ten alle koste, die kop en nie die stert te wees nie. The winner takes all… Vir hierdie strewe haal ons tot die Bybel aan! Dan word my naam ‘n maatband waarmee ek myself meet aan hoe ek verelyk met ander of hoe ek die objek van hulle bewondering of goedkeuring word. Binne hierdie kompetisieveld van vergelykings word my naam dan selfs deur die mislukkings van ander bepaal. En so word die een naam se dood die ander naam se brood. Ons kultuur ken bitter min alternatiewe hierop. Paulus waarsku teen so ‘n strewe (1 Kor 10:12).

Kinders moet weet dat hulle naam vir God spesiaal is. Hulle moet dit hoor soos wat Jesus dit by God uit die hemel kon hoor (Matt 3:17). Indien ons nie die hemel hoor nie dan sal die aarde ons die klippe van Sisiphus laat rol. Kan dit wees dat Heavy Metal meer betekenis aan kinders gee as hulle Sondagskoollessies? Kan dit wees dat ‘n beroep of titel die finale sê oor my naam kry? Waarom die obsessie om altyd te vra: So, wat doen jy vir ‘n lewe? Waarom waarsku Jesus in Lukas 10:20 sy dissipels dat godsdiens ook ‘n vals naam aan jou kan gee? Ja, selfs hulle gesag en sukses deur duiwels uit te dryf, moet hulle nie laat goed voel oor hulleself nie. Moet hulle nie ‘n naam gee nie. Hoekom?

Want hulle het reeds ‘n naam. In die hemel. Verborge. God het dit gegee…

« Older entries