deur MC Engelbrecht
Die liefde …O…die liefde, wie sal dit ooit verstaan? So baie musiek, flieks en boeke bevat gedeeltes oor die liefde en die impak van liefde.
Wie van julle het al die pyn van liefde ervaar? Daar is ‘n dik boek geskryf deur ou met die naam van Robert Pelton, die boek se naam is: “The world’s most dangerous places”. In die boek vertel Pelton hoe ons kan oorleef in plekke soos Congo, Irak, Colombie ens. Maar oom Robert praat nooit van liefde nie. Liefde is darem ‘n gevaarlike plek om te beweeg en leef….
Vat nou maar die profeet Hosea se lewe. Hy droom ook van liefde en ‘n mooi vrou en net sommer ‘n gelukkige lewe…en dan kry hy ‘n sms/oproep van God wat sê Hosea ek wil hê dat jy met ‘n prostituut moet trou. VERBEEL JOUSELF…. Hosea trou met Gomer en is baie lief vir haar, maar sy los hom om agter ander mans aan te loop. Hosea se hart is gebreek! Nie net is hy vrouloos nie, maar almal spot met hom.
Maar Hosea se lewe is sy boodskap. Hy begin vir mense vertel dat wat met hom gebeur is eintlik wat met God gebeur. God is so lief vir julle maar julle bly wegloop van Hom af. God is die een wat elke keer kom en sy liefde verklaar.
Kyk wat sê die Here in Hosea 11:8: “Maar hoe kan Ek jou prysgee? Hoe kan Ek jou laat vaar? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.”
Ek wonder baie oor die liefde van God. Hoe bewus is jy van hierdie liefde wat God vir jou het? Dink jy soms jy het so droog gemaak dat God jou nooit sal vergewe nie?
Lees Hosea en sien self hoe lief God jou het!!
Ek wonder soms of ons as Christene ooit bewus is van God se liefde? Ons is so veroordelend tenoor ander mense. Ek wonder soms hoe kan ons die liefde van God ‘n werklikheid maak in ander se lewens?
Hoe kan ons as profete van liefde optree in vandag se wêreld?
Dalk het jy ‘n paar antwoorde op my vrae, laat weet my asb! Dalk het jy ook nog vrae, laat weet my wat hulle ook is!
Tot later…..leef die liefde!
