June 2009

You are currently browsing the monthly archive for June 2009.

Christaholics

deur Theo Geyser > InVia

http://www.invia.org.za/THEO-logy/

Wat is dit in kerke wat jou verbied om ‘n kleingroep by te woon indien jy nie ‘n lidmaat van die spesifieke kerk is nie? Wat is dit in kerke wat aan leiers die mag gee om hulle lidmate se lewensmaats vir hulle te kies? Wat is dit in kerke wat dit regkry dat hulle lidmate ander verkleineer en demoniseer?

Christaholics.

Dit is waar toewyding aan God ‘n verslawing word.

Professor Archibald Hart noem dwelmhandel in die kerk the quest for religious ecstasy and euphoria. Die brein bly nog steeds die grootste vervaardiger van verdowingsmiddels. Dit is waar ek my weeklikse fix of shot kry. Godsdiens gee net die regte mix. Godsdiensverslawing lyk net soos die ware Jakob. Toegewyd en vroom. Jy sal hom ook nie sommer kan teegaan nie – hy kom in bybelpakkies. Hy verwar God met godsdiens.

Verslawende geloof word gebore wanneer geloof misbruik word om ware emosies en die angs van ons bestaan te omseil. ‘n Obsessie ontwikkkel om te major in die minors. Goethe het gemeen die wêreldgeskiedenis een hooftema het: Die konflik tussen geloof en ongeloof. Paulus sou tuis voel in so opmerking want sy via was ook tussen hierdie bakens. Hy weet van oorvloed en gebrek. Van gesondheid en doring in die vlees. Van lag en huil. Van sukses en mislukkings. Dit was ook nie anders in Jesus se lewe nie. Jesus ken God se nabyheid, maar ook sy baie vêr aan ‘n kruis (Matt 27:46).

Die onvermoë om ongeloof en misterie deel van spiritualiteit te maak, veroorsaak dat daar ‘n obsessie met geloof en sekerheid ontstaan. Ons raak verslaaf aan geloof as ‘n manier om van ongeloof ontslae te raak. Daarom kan Christaholics nie sonder spesiale aansprake leef nie (omdat dit Heilige Gees-geïnspireerd is word enige meningsverskil gesien as ‘n aanval op God). Die boek Toxic Faith deur Stephen Arterburn & Jack Felton (Oliver-Nelson, 1991) is ‘n uitstekende stuk werk oor hierdie onderwerp.

Labeling is the name of the game.

In dwelmnetwerke is daar altyd die baas waaraan jy moet rapporteer – ook nie anders in godsdiens nie. Die woord submission word niks anders as ‘n sado-masochistiese verhouding waarbinne die sadis (een wat seermaak) en die masochis (een wat seergemaak wil word) mekaar binne hierdie simbiotiese verhouding verslaaf. So sal daar altyd Mugabe’s wees waar volgelinge hulle blinde lojaliteit sweer.

Enige dwelmnetwerk het ook sy gebied. Daarom is ons-versus-julle-paradigma so brilante strategie. Jy is in – of uit. Jy is vir – of teen my. Jou identiteit word bepaal deur wie jy nie is nie – daarom floreer heresy-hunting.

Christaholics kan net met geslote kommunikasie leef. Van bo na onder en van binne na buite. Verslaafdes gee nie om vir die wat buite is nie – dit gaan primêr oor wat binne is en hoe goed hulle voel.

Skole in die omgewing van Bonteheuwel het verlede week ’n week lange bewusmakingsveldtog op die internasionale dag teen dwelmmisbruik en onwettige dwelmhandel gehou.

Die kerk het so week nodig.

 

deur Theo Geyser > InVia

http://www.invia.org.za/THEO-logy/

“Die waarheid en niks minder as die volle waarheid nie”.

Dit is die woorde wat in elke hof gesê word. Wat ironies is, is dat albei partye wat mekaar dagvaar hulle beroep op waarheid. Kan waarheid twee kante hê? Dit het, vra enige tronkvoël – almal is onskuldig. Waarheid het twee kante en dis waarom daar regters is. At the end of the day, soos Naas sou sê, is dit waar waarheid beslis word. Die regter neem die besluit.

‘n Ruk gelede het ‘n meisie my goed laat verstaan dat daar net een kerk in Stellenbosch is wat die Bybel preek, en dit is $%#@!. Ek was teleurgestel omdat dit nie ons gemeente is nie. Op ‘n manier glo ek dat ons darem ook die Bybel in sy suiwerste Sola Scriptura (dit beteken net die Skrif alleen) nastreef. As ek eerlik dink oor wat ek glo en bely dan word ek bedreig deur mense wat van my verskil. Ek het ‘n arsenaal teksies wat ek kan vuur op my opponente. En ek weet, hulle het ook baie vir my. Dit het ek Saterdag weer gehoor by ‘n troue. Die klankman vertel my dat hy doen klank by ‘n sekere kerk in Stellenbosch en wil baie graag na ons toe kom, maar sy pastoor het hom ernstig vermaan van die diepe dwalinge waaraan hy blootgestel sal word. Ek het geen probleem met die vermaning nie. Ek het geen twyfel dat ek ook dwaal. Ek weet net nie altyd waar ek dwaal nie, en die feit dat ek Sola Scriptura bely maak my ook nie immuun teen dwaling nie.

Indien God werklik ontoeganklike lig bewoon (1 Tim 6:16), ondeurgrondelik en onnaspeurlik (Rom 11:33) en onuitspreeklik (2 Kor 12:4) is, raak dit riskant om God se plek te eis in die naam van Sola Scriptura. ‘n Beter vraag oor hierdie Skrifte moet seker wees: Waar moet ons die lig soek as dit ontoeganklik is? Waarom teologie probeer doen as God dan onuitspreeklik is?

Jode het die naam van God, YHWH, sonder klinkers geskryf omdat hulle bang was dat hulle ‘n fout sou maak. Daarom word die korrekte uitspraak ook onmoontlik. Ons word herinner dat die korrekte naam baie on-korrek is en op ‘n manier onmoontlik is om te sê. My soektog is binne misterie. In hierdie naam kry ek woorde waar God self die vokale word van dit wat jy probeer sê.

Die Hervorming is gebore uit die nagloed van die Verligting. Deel van die projek was om misterie te kon verklaar. Die kerk moes homself ook verwoord teen die wetenskap wat alles kon verklaar. In die naam van Sola Scriptura kon die kerk saam met die wetenskap God verstaanbaar en meer aantreklik maak. Met die Hervorming is die gesag van die institusie of kerk vervang met die gesag van die Bybel. Dit was ook die geboorte van ‘n ideologiese bloedbad en intellektuele afgodery wat die Christendom op gesnipper het in vyandige denominasionele bastions. Alles in die naam van Sola Scriptura.

Wanneer ek sê dit staan in die Bybel dan sê ek niks meer as my voorveronderstelling of aannames oor dit wat in die Bybel staan nie. My Sola Scriptura is nie God nie. Anders kan ek nooit afstand doen van enige standpunte oor God nie. Nog minder kan ek Sola Scriptura gebruik om God minder of meer te maak as wat Hy is. Ek sukkel ook met die stelling: Ek praat nou oor of van God. Ek praat eerder oor en van my verstaan van God. My verstaan van God is anders as wie God is. Die teologiese diskoers oorskry taal. Dit is ‘n taal wat in liefde uitgedruk word sonder om God deur die taal gevange te neem.

Daarom het Meister Eckhart gepraat van forsaking God for the sake of God. Of in Tillich se woorde: The God beyond God.

Ek hoop dat ek my heil in die Naam van sola scriptura kan vind. Dan sal die strewe om te interpreteer hopelik ondergeskik word aan die strewe om lief te hê.

Dit is oor liefde wat die Regter moet besluit.

Nuus uit Zimbabwe

Donderdag 11 Junie, laataand

Die afgelope paar dae is die wêreld spierwit en nat van die misreën, asof ons in ‘n wolk woon.  Die Shona woord daarvoor is “guti”.  Die winter het aangebreek en die ysige koue het by die agterdeur ingesluip.  Ons het vier dae laas elektrisiteit gehad, en glo my, daar is min dinge so verfrissend soos ‘n yskoue stort vroeg op ‘n wintersoggend.  Dis nou al laataand, na middernag, en ek tik hierdie e-pos op my laptop terwyl drie krom kerse my van lig voorsien. – een van die vele ironiese prentjies vanuit die toestand waarin Zimbabwe haar tans bevind.

Maar aangesien ek so lanklaas ‘n e-pos uitgestuur het, kom ek begin waar ek laas gestop het:  Eerstens wil ek baie dankie sê vir die gebede en ondersteuning gedurende my Afrikabosluiskoors, ek was maar baie siek, maar het gelukkig herstel en is nou weer rond en gesond.  Intussen was daar ‘n vakansie, en ons is nou alweer druk besig met ons volgende termyn.

Aprilmaand en die terugtog

Gedurende Aprilmaand was ek vir ‘n kort tydjie in die Kaap met vakansie (en het dit vinnig verbygegaan!), en kon ek darem paar nodige afsprake nakom om materiaal te bekom vir die werk hier op Morgenster.  Daarmee saam kon ek byna 80kg in mediese voorrade (vanaf die WesKaapse NG Sinode) en teologiese boeke saam met my terugbring.  Oppad hierheen het ek ook vir paar dae in Pretoria aangegaan waar ek opgelei kon word as ‘n fasiliteerder van Veritas College – ‘n nodige stap wat my nou in staat stel om baie handige opleiding te kan gee in die veld van eksegese en teks-analise.

Een van my koshuisvriende, Albert le Roux, het my help terugbestuur vanaf die Kaap tot hier, en toe kuier hy vir 2 weke en help hier by die kollege .  Daarmee saam het ons ook Zimbabwe verken, en vanaf Victoria Watervalle tot Mutare met ‘n tent uitgekamp.  Met my 4-rat, 1300 Chico golfie (wat alreeds ‘n vreeslike swaar vrag vanaf SA gebring het) het ons  4×4 roetes in Hwange wildtuin aangedurf en o.a. tussen troppe olifante en buffels deurgery in die middernagtelike ure – terwyl die leeus se rooi oë vir ons terugloer in die flits se straal.  Soms moes ons vir honderde kilometers van dorp tot dorp ry op soek na petrol, maar met 3 ekstra petrolkanne in die kar was ons darem voorbereid.  Ek is dankbaar dat ek ook nou ‘n beter perspektief het oor hoe die res van Zimbabwe lyk, beide die mense en die natuurprag.

Maandag, ‘n week gelede, het ek gaan eksamen skryf op Louis Trichardt, as deel van my deeltydse Griekse studies deur Noord-Wes Universiteit.  Die vraestel was 5 ure lank (en dit was steeds te min tyd!).  Dus was ek laasnaweek weer vinnig af Republiek toe, en kon ek weer voorraad koop.  O.a. kon ek lugfilters, petrolfilters, olie-filters en vonkproppe koop, want hier rond word karre self-gediens [sic].  Intussen het ek gelukkig positiewe uitslae ontvang op my griekse eksamen.

Hierdie termyn by Murray Theological College

Ons klasse is alreeds byna drie weke volspoed aan die gang, en is ek meestal agter die boeke, voor in die klas, of op my knieë.  Ek bied 16 lesings per week aan, en dit neem my gemiddeld 2 ure om voor te berei vir ‘n lesing.  My kurrikulum vir die verskillende jaargroepe hierdie termyn lyk as volg:

· 1ste jaars: Agtergronde en kontekste van die Nuwe Testament

· 2de jaars: Verskeie teologiese temas (bespreek vanuit verskillende Nuwe Testamentiese literatuur-tradisies)

· 3de jaars: Paulus se briewe (vervolg)

· 4de jaars: Algemene briewe (Hebreërs, Jakobus, 1, 2 Petrus, 1,2,3 Johannes, Judas en Opbenbaring)

· Hiermee saam bied ek ook tegelykertyd vir al die studente ‘n handige kursus aan in teks-ontleding (Veritas), met die hoop dat hulle dit ook eendag vir hul eie gemeentelede en kerkrade kan aanbied.

Reeds aan die einde van die vorige termyn, het ons weereens besef dat die RCZ (Reformed Church in Zimbabwe) nie die nodige finansies het om hierdie teologiese kollege te onderhou nie.  In ‘n poging om finansies te probeer bekom, was die begin van hierdie termyn uitgestel met twee weke – en die studente moes eers wag om te hoor of ons enigsens gaan oopmaak.  Die studente het onlangs selfs ingewillig om hul studies voort te sit sonder enige finansiële bystand – en heelpaar van hulle het gesinne om te onderhou!  Intussen is ons weer verras deur verskeie skenkings wat ingekom het, nie net vanuit SA nie, maar ook RCZ gemeentes in Zimbabwe wat paar liter petrol, of paar liter kookolie, of boontjies of mielies of enige middele stuur om uit te help.  (Die teologiese kollege behoort aan die RCZ, en daarsonder het hul geen ander bron van predikante nie).  Dit voel asof ek in ‘n motor sit wat lyk of hy heeltyd oor die afgrond gaan ry, maar op die laaste nippertjie word die stuurwiel teruggeruk en is ons weer terug op die pad – waarlik ‘n lewe van gebed en dankbaarheid.  Daar is nog baie wat ek hieroor kan skryf.

Intussen gaan ons aan met die dag-tot-dag bedrywighede.  Ek word steeds elke verras deur nuwe ontdekkings en leer baie van die studente oor menswees, families, gemeenskappe, omgee, vasbyt en om te lewe met oortuiging.  Ons deel nie net in die swaarkry nie, maar ook in die kosbaarhede van die lewe, soos bv. laasweek het een van die eerstejaars ‘n pa geword en kon ek saamkuier rondom sy dag-oue seuntjie.  Hy het ook baie moeite gedoen om al die familie-seremonies en rituele daarrondom vir my te verduidelik.  Die afgelope naweek is een van die kollege se studente gelegitimeer in ‘n kerk as predikant en het ons almal die dag saam met haar gaan vier.  Dan is daar natuurlik ook die hartseer van begrafnisse, familie-krisisse en ander realiteite.

Ek het nou al ‘n slag gaan preek by die klein NG gemeente op Masvingo, en oor twee weke preek ek weer daar (hulle is sonder ‘n predikant en ek het my hulp aangebied vir die res van die jaar).  Ek gaan ook nou begin werk aan ‘n korrespondensie-bybelstudiekursus vir die Shona-jeug.  Oor ‘n week gaan ek ook ‘n boodskap bring by die nabygeleë onderwyskollege.  Intussen is daar ook meer as genoeg tye wat ek kans kry om Afrika in al sy volheid te beleef.

‘n Paar slot-gedagtes

Met my gaan dit baie goed.  Ek is tevrede en het alles wat ek nodig het.  My jaar hier is meer akademies as wat ek gedink het.  Ek het begin honger word vir kennis en buiten my klasvoorbereiding lees ek ook ‘n hele paar ander baie akademiese boeke oor die Nuwe Testament (die soort boeke waarvoor ek tydens my voorgraadse studies verskriklik bang voor was… maar daarby moet ek ook noem dat my ander groot vrees was dat die Here my na my studies gaan stuur om op ‘n sendingstasie in Afrika te gaan werk…)

Die enigste ander saak waaroor ek werklik worstel in gebed, is oor my eie planne vorentoe.  Ek moet hierdie jaar besluit hoe die volgende paar treë op my lewenspad gaan lyk, treë wat moontlik die rigting gaan bepaal vir die jare wat daarop volg.  

Nouja, laat ek afsluit – my laptop is al op sy laaste battery en daar is nog 11% krag oor.  Ek sal in die volgende week bietjie foto’s op Facebook probeer laai, dis nou as ek elektrisiteit en internet het.  Hou asb. aan met bid.  En laat weet gerus so bietjie nuus vanuit die res van die wêreld.

Baie groete, liefde en alle gesonde dinge.

Roelof Nel

Morgenster Sendingstasie, Zimbabwe

roelof.j.nel@gmail.com