Donderdag 11 Junie, laataand
Die afgelope paar dae is die wêreld spierwit en nat van die misreën, asof ons in ‘n wolk woon. Die Shona woord daarvoor is “guti”. Die winter het aangebreek en die ysige koue het by die agterdeur ingesluip. Ons het vier dae laas elektrisiteit gehad, en glo my, daar is min dinge so verfrissend soos ‘n yskoue stort vroeg op ‘n wintersoggend. Dis nou al laataand, na middernag, en ek tik hierdie e-pos op my laptop terwyl drie krom kerse my van lig voorsien. – een van die vele ironiese prentjies vanuit die toestand waarin Zimbabwe haar tans bevind.
Maar aangesien ek so lanklaas ‘n e-pos uitgestuur het, kom ek begin waar ek laas gestop het: Eerstens wil ek baie dankie sê vir die gebede en ondersteuning gedurende my Afrikabosluiskoors, ek was maar baie siek, maar het gelukkig herstel en is nou weer rond en gesond. Intussen was daar ‘n vakansie, en ons is nou alweer druk besig met ons volgende termyn.
Aprilmaand en die terugtog
Gedurende Aprilmaand was ek vir ‘n kort tydjie in die Kaap met vakansie (en het dit vinnig verbygegaan!), en kon ek darem paar nodige afsprake nakom om materiaal te bekom vir die werk hier op Morgenster. Daarmee saam kon ek byna 80kg in mediese voorrade (vanaf die WesKaapse NG Sinode) en teologiese boeke saam met my terugbring. Oppad hierheen het ek ook vir paar dae in Pretoria aangegaan waar ek opgelei kon word as ‘n fasiliteerder van Veritas College – ‘n nodige stap wat my nou in staat stel om baie handige opleiding te kan gee in die veld van eksegese en teks-analise.
Een van my koshuisvriende, Albert le Roux, het my help terugbestuur vanaf die Kaap tot hier, en toe kuier hy vir 2 weke en help hier by die kollege . Daarmee saam het ons ook Zimbabwe verken, en vanaf Victoria Watervalle tot Mutare met ‘n tent uitgekamp. Met my 4-rat, 1300 Chico golfie (wat alreeds ‘n vreeslike swaar vrag vanaf SA gebring het) het ons 4×4 roetes in Hwange wildtuin aangedurf en o.a. tussen troppe olifante en buffels deurgery in die middernagtelike ure – terwyl die leeus se rooi oë vir ons terugloer in die flits se straal. Soms moes ons vir honderde kilometers van dorp tot dorp ry op soek na petrol, maar met 3 ekstra petrolkanne in die kar was ons darem voorbereid. Ek is dankbaar dat ek ook nou ‘n beter perspektief het oor hoe die res van Zimbabwe lyk, beide die mense en die natuurprag.
Maandag, ‘n week gelede, het ek gaan eksamen skryf op Louis Trichardt, as deel van my deeltydse Griekse studies deur Noord-Wes Universiteit. Die vraestel was 5 ure lank (en dit was steeds te min tyd!). Dus was ek laasnaweek weer vinnig af Republiek toe, en kon ek weer voorraad koop. O.a. kon ek lugfilters, petrolfilters, olie-filters en vonkproppe koop, want hier rond word karre self-gediens [sic]. Intussen het ek gelukkig positiewe uitslae ontvang op my griekse eksamen.
Hierdie termyn by Murray Theological College
Ons klasse is alreeds byna drie weke volspoed aan die gang, en is ek meestal agter die boeke, voor in die klas, of op my knieë. Ek bied 16 lesings per week aan, en dit neem my gemiddeld 2 ure om voor te berei vir ‘n lesing. My kurrikulum vir die verskillende jaargroepe hierdie termyn lyk as volg:
· 1ste jaars: Agtergronde en kontekste van die Nuwe Testament
· 2de jaars: Verskeie teologiese temas (bespreek vanuit verskillende Nuwe Testamentiese literatuur-tradisies)
· 3de jaars: Paulus se briewe (vervolg)
· 4de jaars: Algemene briewe (Hebreërs, Jakobus, 1, 2 Petrus, 1,2,3 Johannes, Judas en Opbenbaring)
· Hiermee saam bied ek ook tegelykertyd vir al die studente ‘n handige kursus aan in teks-ontleding (Veritas), met die hoop dat hulle dit ook eendag vir hul eie gemeentelede en kerkrade kan aanbied.
Reeds aan die einde van die vorige termyn, het ons weereens besef dat die RCZ (Reformed Church in Zimbabwe) nie die nodige finansies het om hierdie teologiese kollege te onderhou nie. In ‘n poging om finansies te probeer bekom, was die begin van hierdie termyn uitgestel met twee weke – en die studente moes eers wag om te hoor of ons enigsens gaan oopmaak. Die studente het onlangs selfs ingewillig om hul studies voort te sit sonder enige finansiële bystand – en heelpaar van hulle het gesinne om te onderhou! Intussen is ons weer verras deur verskeie skenkings wat ingekom het, nie net vanuit SA nie, maar ook RCZ gemeentes in Zimbabwe wat paar liter petrol, of paar liter kookolie, of boontjies of mielies of enige middele stuur om uit te help. (Die teologiese kollege behoort aan die RCZ, en daarsonder het hul geen ander bron van predikante nie). Dit voel asof ek in ‘n motor sit wat lyk of hy heeltyd oor die afgrond gaan ry, maar op die laaste nippertjie word die stuurwiel teruggeruk en is ons weer terug op die pad – waarlik ‘n lewe van gebed en dankbaarheid. Daar is nog baie wat ek hieroor kan skryf.
Intussen gaan ons aan met die dag-tot-dag bedrywighede. Ek word steeds elke verras deur nuwe ontdekkings en leer baie van die studente oor menswees, families, gemeenskappe, omgee, vasbyt en om te lewe met oortuiging. Ons deel nie net in die swaarkry nie, maar ook in die kosbaarhede van die lewe, soos bv. laasweek het een van die eerstejaars ‘n pa geword en kon ek saamkuier rondom sy dag-oue seuntjie. Hy het ook baie moeite gedoen om al die familie-seremonies en rituele daarrondom vir my te verduidelik. Die afgelope naweek is een van die kollege se studente gelegitimeer in ‘n kerk as predikant en het ons almal die dag saam met haar gaan vier. Dan is daar natuurlik ook die hartseer van begrafnisse, familie-krisisse en ander realiteite.
Ek het nou al ‘n slag gaan preek by die klein NG gemeente op Masvingo, en oor twee weke preek ek weer daar (hulle is sonder ‘n predikant en ek het my hulp aangebied vir die res van die jaar). Ek gaan ook nou begin werk aan ‘n korrespondensie-bybelstudiekursus vir die Shona-jeug. Oor ‘n week gaan ek ook ‘n boodskap bring by die nabygeleë onderwyskollege. Intussen is daar ook meer as genoeg tye wat ek kans kry om Afrika in al sy volheid te beleef.
‘n Paar slot-gedagtes
Met my gaan dit baie goed. Ek is tevrede en het alles wat ek nodig het. My jaar hier is meer akademies as wat ek gedink het. Ek het begin honger word vir kennis en buiten my klasvoorbereiding lees ek ook ‘n hele paar ander baie akademiese boeke oor die Nuwe Testament (die soort boeke waarvoor ek tydens my voorgraadse studies verskriklik bang voor was… maar daarby moet ek ook noem dat my ander groot vrees was dat die Here my na my studies gaan stuur om op ‘n sendingstasie in Afrika te gaan werk…)
Die enigste ander saak waaroor ek werklik worstel in gebed, is oor my eie planne vorentoe. Ek moet hierdie jaar besluit hoe die volgende paar treë op my lewenspad gaan lyk, treë wat moontlik die rigting gaan bepaal vir die jare wat daarop volg.
Nouja, laat ek afsluit – my laptop is al op sy laaste battery en daar is nog 11% krag oor. Ek sal in die volgende week bietjie foto’s op Facebook probeer laai, dis nou as ek elektrisiteit en internet het. Hou asb. aan met bid. En laat weet gerus so bietjie nuus vanuit die res van die wêreld.
Baie groete, liefde en alle gesonde dinge.
Roelof Nel
Morgenster Sendingstasie, Zimbabwe
roelof.j.nel@gmail.com