deur Roelof Nel
Hallo maters, broeders en (skoon)susters, vrinne en vrindinne, proffies, doomnies, oompies, interessante geïntereseerdes en biddende belangstellendes.
Baie groete vanaf die stofstrate van Morgenster sendingstasie, waar die klokke van die koeie en die inheemse kore mooier musiek maak as 5FM en Youtube saam (of altans RSG en 7de Laan). Ek groet julle in die naam van die hoof van die kerk, die president van presidente, en die vroeë Morgenster wat die nuwe dag aankondig saam met vals hoenderhaan in ons tuin.
Ek stuur sommer gou ‘n kort briefie met bietjie nuus en paar ongefiltreerde gedagtes.
Die donkerte van die situasie hier het my die laaste tyd flou gemaak, en as ek na die omstandighede hier rondom my kyk is dit al moeiliker en moeiliker om te glo in ‘n nuwe skepping wat verlos gaan word vanuit hierdie oue. Deesdae is dit vir my makliker om net vas te hou aan ‘n wêreld ver-ver hiervandaan, selfs ‘n ‘n pie-in-the-sky. Die beelde in Openbaring van ‘n defnitiewe oordeel, ‘n defnitiewe reg of verkeerd, en ‘n hiernamaals wat splinternuut gaan wees – dit is al waar ek tans hoop sien en tuis voel. Tog probeer ek myself keer-op-keer eerder laat dink aan wat dit beteken om Christus te volg in die hier en nou, en ek vra myself af hoe die wêreld moet lyk as die Messias reeds hier en nou sy Koninkryk begin het. As Jesus alreeds die koning van konings is, wat beteken dit vir die roeping van die kerk? Wat beteken dit om wêrelds-Christelik te wees, en nie net eendag ver-ver-hiervandaan-Christelik nie. En ek is moeg. En die vrae word by die dag groter.
Die winterkoue het ons ook ingehaal, en ‘n plaaslike dosent sê dat dit die koudste winter nog is vandat hy 20 jaar gelede daar aangekom het. Snags kan ons gelukkig rondom ‘n heerlike kaggelvuur sit en geestelike liedere sing of saam eet in dankbaarheid.
Die laaste paar weke het ons vreeslike kragonderbrekings gehad, en meeste dae glad nie krag nie. Ons water het ook al ‘n hele paar weke gelede opgedroog. Deur die dag is daar dan Shona vroue wat vir ons water aandra op hul koppe vanaf ‘n fontein in die vallei. So verdien hulle dan ook bietjie kos en geld. Ons noem dit sommer “lopende water”.
Sedert die teologiese-studente vroeër die termyn ingestem het om aan te hou studeer sonder enige finansiële ondersteuning, het ons ‘n spannetjie mense gestig om te help met die invordering van enige hulp wat hulle kan bekom, hetsy boontjies, mielies, petrol, of enige ander oorlewingsmiddele. Hierdie span is die Relief Assistance Team gedoop, of kortweg praat ons van die RATs. Hoewel dit swaar gaan, is ons keer-op-keer verbaas oor die bydraes wat vanuit ander swaartrekkende geloofsgemeenskappe in Zimbabwe kom. Shona gemeentetjies vanoor Zimbabwe probeer saam om ons (hul) teologiese kollege aan die gang te hou. Met groot dankbaarheid kom daar ook bydraes vanuit Suid-Afrika uit. Die RATs gee weekliks terugvoer by ons gemeenskaplike bybelstudies 7-uur op ‘n Woensdagoggend.
By Murray Theological College is ons nou klaar met ons tweede termyn, en binnekort (2 September) begin ons derde en laaste termyn. Ek is tans in die Kaap, waar ek onlangs ‘n week-lange werkswinkel bygewoon saam met Ou-en Nuwe-Testament dosente vanuit vele ander Afrika lande. Ons kon saam kuier en praat oor klasgee, kurrikulums opstel, en vele ander aspekte van opleiding in Afrika. Dit was egter vir my ‘n skok om perspektief te kry oor die situasie in Zimbabwe in vergelyking met meeste ander Afrika-lande. Ek het besef dat ons by Murray Theological College al lankal (noodgedwonge) ons klem verskuif het na oorlewing, en nie noodwendig akademiese uitnemendheid nie. As voorbeeld kan ek dalk ons laaste personeelvergadering noem: ons het vir 5 ure vergader en vir langer as vier ure het ons net gepraat oor hoe ons die bietjie kos en bietjie geld gaan versprei om al die nood te probeer dek. Daar was sekerlik omtrent 15 minute van die vergadering aan akademiese sake oorgelaat. Dus trek elke dosent maar aan sy eie las en probeer maar jou bes met die tyd en hulpbronne tot jou beskikking. Ons besin ook soms realisties oor die volhoubaarheid en toekoms van ‘n teologiese kollege. Het die situasie in Zimbabwe so sleg geraak dat evangelieverkondiging nie meer moontlik is nie?
Weens die tekort aan teologiese boeke, is my benadering tot klasgee ook dus ‘n metode waar ek baie meer tyd spandeer om sinvolle (en soms baie rou) klasgesprekke te fasiliteer, en ook dan die Bybel as primêre handboek te gebruik (hehe, en ek weet my pentacostal voorbidders hou baie daarvan). Ek sal dan seker maak dat ek as dosent myself baie deeglik voorberei vanuit akademiese leesstof oor die historiese / sosio-kulturele / teologiese / interpretasie-geskiedenis van die onderskeie Nuwe-Testamentiese tekste – en dus probeer sekermaak dat daar nie relevante en belangrike buite-Bybelse inligting kortkom nie. Ongelukkig is die beste van my teologiese vaardighede nie opgewasse daartoe om enige goedgeformuleerde antwoorde te bied vir die huidige situasie in Zimbabwe nie. Dit voel dit of ek soms eerder probeer wegkruip binne-in die historiese wêreld van die Nuwe Testament, en nie wêreld van vandag se leser nie. Dit is makliker om te praat oor Paulus en die Romeinse Keiser, as wat dit is om te praat oor my studente en die politieke omstandighede.
Nou is ek gelukkig vinnig by my ouerhuis en kan ek soggens laat (baie laat) slaap, die klein goedjies in die lewe waardeer, deur die mall stap, saam met goeie vriende kuier, ‘n Kaapse wyntjie geniet, ‘n paar flieks inwerk en rustig raak. Om weer gewoond te raak aan my eie mense, neem hierdie keer langer as my vorige besoek. Selfs gesprekke oor teologie of kerkwees voel vir my vreemd, asof kerkwees nie meer is wat ek gedink het dit moet wees nie. Wanneer ek my oë toemaak, sien ek weer die hartseer in Zimbabwe. Nie die hartseer van paar individue of selfs net van armoede nie, maar die hartseer wat mens kry wanneer hele sisteme en strukture korrup geraak het. Dit is nie net dat enkele individue in die greep van sonde is nie, maar ‘n hele regering en samelewing wat vasgeval geraak het in ‘n sondige bestaan. In vele evangelisasie-kursusse het ek al geleer hoe om individue te begelei op ‘n weg na verlossing. Maar hoe verlos mens ‘n sisteem?
“Jy leer seker baie in Zimbabwe, wat het jy alles geleer?”, vra baie mense my. Wel, as mens iets wil leer dan gaan neem jy ‘n boek uit of jy gaan universiteit toe, jy gaan nie Zimbabwe toe nie. Al goeds wat ek tans daaruit haal, is die realiteit van gebrokenheid… en die getuienis van ‘n Shona geloofsgemeenskap ten midde daarvan. En ek leer darem baie akademiese kennis in die veld van Nuwe Testament, en ek is seker my kweekskool-proffies sal bly wees dat Akademie my uiteindelik ingehardloop het (hehe, my klasmaats sal verstaan).
Die derde en laaste termyn van ons kollege lê nou voor en bestaan uit 5 weke klas, die finalejaars moet almal proefpreke lewer, en daar is ‘n groot eksamen aan die einde van die jaar.
Ons Ou Testament dosent, ds. Aalt Visser, is vir paar weke in Nederland en ek gaan ook instaan vir Ou Testamentiese klasse, alhoewel ons ooreengekom het dat ek die 400 jaar tussen die Ou-en Nuwe Testament behandel (dis darem bietjie nader aan my veld).
Intussen het ds. Henry Murray, ons prinsipaal en Kerkgeskiedenis-dosent, ‘n heup-operasie ondergaan, bid asb. saam vir sy herstel. Hy het verlof ingesit vir twee maande, voordat hy en tannie Susan Murray weer gaan terugkeer om hul harde werk voort te sit. Tans loseer ek by die Murrays, en dus beteken dit ook dat ek vir die volgende twee maande die enigste Suid-Afrikaner op Morgenster gaan wees en dat ek ook heeltemal vir myself sal moet sorg, kos soek en maak – maar gelukkig het ek al gedurende my studentedae die kuns van 2-minute noodles bemeester. (Dus nou as ek 2 minute noodles daar kan opspoor, of die water om dit in te kook).
Dus is ek nog in die Kaap tot rondom 24 Augustus. My terugreis-reelings het intussen deur die mat geval, dus moet ek nog my datums finaliseer. Ek kon darem al nodige akademiese leesstof en motorparte opspoor (my Citi- golfie is gestrand in Zimbabwe). Bid asseblief vir die werk daar. Nie net vir my nie, eindelik gaan dit nie oor my nie. Selfs nou dat ek rond en gesond hier in die land van melk en brood is, verander dit steeds niks aan die situasie van ons broers en susters duskant die Limpopo nie. Binnekort vertrek ek weer na die yskoue Morgenster. Mens hou maar aan hoop dat dit net die laaste stuiptrekkings van die winter is, en dat lente binnekort sal aanbreek.
Bid ook asb. vir die prosesse om ‘n grondwet vir Zimbabwe op te stel – die rooskleurige hoop wat die unity-government vroëer vanjaar meegebring het, is lankal doodgeryp.
Baie dankie vir al die liefde en ondersteuning, dat jul saam met my bid, hoop en huil, en ook saam met almal wat by my is en vir wie ek liefgeraak het.
Tot my spyt is my e-pos korrespondensie baie minder as wat ek aanvanklik gehoop het, maar ek stuur weer binnekort bietjie nuus.
Genade en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, die eersgeborene uit die dode en Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en van ons sondes gewas het in sy bloed en ons konings en priesters gemaak het vir God . Aan Hom die Heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.




