Op reis na Mozam….

Deur MC Engelbrecht

Om op ‘n reis te gaan is altyd opwindend, veral as jy in Afrika in reis…Daar is altyd ‘n gevoel van opwinding, afwagting, avontuur en ontspanning, tog is daar ‘n klein bietjie spanning (stres) veral wanneer jy oor ‘n grens moet gaan. Jy weet nooit hoe lank jy op die grens gaan moet bly nie? Is jy goed genoeg voorberei? (Het al die papierwerk gereed? Is jy vriendelik genoeg? Sal hulle jou verstaan?).

Nou onlangs was ons studente weer opreis na Mosambiek, om saam met Francois Rauch te gaan werk. Ons sou veral besig wees om die weeshuise wat hulle gebou het te verf en gereed te maak vir die inwoners. Francois-hulle het ‘n geweldige klomp kinders wat sonder ouers is. So hulle neem weduwees uit die gemeenskap en plaas ‘n paar kinders by haar, hulle help dan met kos en verblyf. Dit was ongelooflik om van die “ma’s” en kinders te ontmoet…en om die trots te sien wat hulle het in hulle huisie.

Terug by die reis waar ons deur 3 grensposte moet gaan om by Francois hulle te kom. ‘n Grenspos kondig met trots aan dat jy nou ‘n nuwe land betree, landsvlae wapper trots. Foto’s van die president hang groot en statig in elke gebou, nuwe tale begroet jou op elke kennisgewingbord…en selfs vreemde reuke begroet jou.

Ek sal graag met julle wil deel wat hierdie oorsteek van grense vir my beteken het:

1) Die gevoel van ‘n vreemdeling

Wanneer jy oor ‘n grens beweeg ervaar jy wat beteken dit om ‘n vreemdeling te wees…ek is ver weg van my vrou en kinders. Daar is nuwe tale en gewoontes van die mense om jou. Jy ervaar dat jy uit is en nie inpas nie, al probeer jy. Ek moet sê dat die Bybel egter juis oor grense vir my weer begin sin maak het. Die meeste tekste is juis geskryf in tye waar mense vreemdelinge was. Selfs vir Jesus was buitestaanders en vreemdelinge belangrik. Mense wat juis nie lekker inpas nie. Dit was vir my uiters waardevol om ‘n konneksie te maak met die gevoel!!!

2) Gee beheer oor

Wanneer jy in ‘n bekende plek is ken jy die sisteme en strukture…jy weet hoe goed werk en hoe nie. Jy is in beheer en kan baie keer die sisteem beheer/manupileer…In die vreemde is jy afhanklik van ander mense en sisteme. Sodra jy probeer om alles te beheer, raak jou reis vol spanning, ongemak en net een teleurstelling na die volgende teleurstelling…Sodra jy beheer oorgee en vertrou, raak die reis ‘n avontuur met verrassings wat net om die draai wag.

3) Verbreek ‘n ritme

Wanneer ons oor grense beweeg is die ritme anders. Jy loop anders, jy dink anders, jy beweeg op ‘n nuwe ritme. In Zimbabwe het ons sleepwaentjie gebreek en ek moes na die naaste dorp gaan om hulp te kry…ek was haastig en ongeduldig, want ek wou nie ons tydskedule omver gooi nie. Die vriendelike Zimbabwiërs onderhandel egter eers nadat ons gaan sit het en mekaar beter leer ken het. Ek moes daar rustiger raak en stadiger praat en stadiger beweeg. Dit was so lekker om daar in die stof van Zimbabwe met mense te kon sit en praat, heeltemal ‘n nuwe ritme

4) Leer jouself ken

Terwyl jy vreemd is en voel, terwyl jy geen of min beheer het nie en terwyl jy ‘n nuwe ritme leer ken …voel jy kwesbaar…juis in sulke oomblike kry ‘n blik op wie jy tregtig is…daar is geen maskers om agter te skuil nie, geen verskoning nie. Dit is net jy!! Wat ‘n belewenis. Ek sou elkeen aanbeveel om gereeld oor ‘n grens te beweeg….

Laat weet asb via die web van jou eie ervarings om oor grense te beweeg, of van die grense waaroor jy al moes beweeg….ek leer (reis) graag verder.