Shirley

deur Theo Geyser > InVia

http://www.invia.org.za/THEO-logy/

Vandag is hartseer.

Shriley is oorlede.

Sy was 48 jaar oud – dit maak dit soveel erger. Ek weet self nie hoekom eis ek ‘n lang lewe by God nie – en hoekom ek opstandig word as die Here toelaat dat iemand se lewe geneem word nie. Ek hou nie van begrafnishou nie – dis soms plastiek. Ek onthou die opmerking van ‘n vrou oor haar man se begrafnis: Ek wens ek het die man geken waarvan hulle daar gepraat het…

Ek staan en kyk na al die mense by die huis in Vlaeberg wat langs die Vlaeberg tennisklub staan. Dit is nou ‘n kerkie. Die gemeente kon skuif uit die klaskamer van die verlate plaasskool nadat die boere van Vlaeberg ingewillig het dat Johannes die huis langs die tennisklub by hulle kon huur. Die huis kan omtrent 120 mense akkomodeer. Daar is minstes 500 mense by die begrafnis. Mense kom met busse, tax’is en elke moontlike geleentheid. Mense groet mekaar, druk mekaar en huil. Binne speel daar musiek en die gemeente sing passievol.

Die diens begin 9h00.

Hulde word aan Shirley gebring. Pastoor Williams vertel hoe Johannes en Shirley hom onder die invloed van dwelms by sy huis in Woescter kom haal het. Hy moes by hulle bly – en was baie bang vir sedepreke. Hy het nie sedepreke gekry nie maar liefde. Vandag is hy ook in die bediening. Ek hoor hoe pastoor Matroos en sy vrou vertel dat haar kinders van Shirley se melk kon drink – geld was skaars. Toe die kind die tiettie begin byt het hulle geweet die kind is nou groot genoeg. Ek hoor jou kinders is my kinders. Hulle vertel dat die tye wat daar nie kos was nie kon hulle vir Shirley en Johannes bel – die hoofdis was altyd kool met hoedermagies. Die gehoor skater van die lag – hulle ken van kool en hoendermagies. Dit was die maerjare. Pastoor Jenny Arendse vertel hoe Shirley reguit kan praat – roede met liefde was een ding. Pastoor Smith vertel dat hy kom van die country en wou nie in Johannes se huis in gaan nie – want hulle is grênd mense – net om die nederigste mense ooit te ontmoet. Pastoor Meyers se ontmoeting met Johannes en Shriley het hom na die bediening geroep. Hy vertel dat Shirley altyd lag – Sy is brights. Shirley het altyd gelag – hulle het van haar gesê… Suster jy’s op bright – dim djou lights man!! Dan sing die De Koker susters. Johannes en sy dogter Daylene bring hulde aan die wonderlikste vrou en ma in hulle lewe. Dan begin Johannes spontaan sing sonder begeleiding – die laaste lied wat hy en Shirley laas in die motor saam gesing het: “Everyday with Jesus is sweeter than the day before…”

Terwyl hy sing vloei die trane oor die wange van die gemeente. Dan begin almal saam te sing.

Ek moet preek. Ek voel die knop in my keel. Ek is geraak deur die begrafnisredes wat nie vae veralgemenings of cliché’s is nie, maar woorde wat net vriende vir mekaar kan sê – dis diep, persoonlik en intiem. Shirley het gevra vir ‘n ware Pinkster begrafnis. Ek moet my lyf Pinkster hou – ek ken van – die AGS en ander Charismatiese kerke het my goed geleer. Vir ‘n oomblik vergeet ek waar ek is en leef en voel saam met die mense wat saam met my preek met amen’s en hallelujah’s.

Na die preek kom groet die gemeente oulaas vir Shriley. Die kis word oopgemaak. Mense kom bring vir oulaas ‘n huldeblyk. Hierdie keer met ‘n soen, of ‘n streel oor Skriley se wange. Daylene en Melinda vertel my dat hulle self die lyk gewas het. Dis baie vreemd vir my – ek dink aan hoe anders Witmense met die dood omgaan. Dit is onnatuurlik en hospitale en tegnologie hanteer die dood vir die wat dit kan bekostig.

By die onthaal maak Johannes se broers musiek. Dis jazz, country en gospel op sy beste. Mense sing en lag. Spontaan neem verskillende persone die mikrofoon en sing met oorgawe. Stories Shirley word vertel – mooi stories. Ek en Wilma gesels met Johannes, Daylene en die jongste dogter, Melinda. Ons praat oor die pad wat voorlê. Daylene het werk in Dubai en haar dogtertjie, Shirlene het by Shriley en Johannes gebly. Ons wonder wie kan Shirlene se nuwe ouma word. Melinda swot B.Sc. en hoop om vir medies gekeur te word. Geld is skaars – hulle sal God moet vertrou vir ‘n wonderwerk.

Om 15h40 het ek en Wilma huistoe gegaan. Ek voel hartseer maar ook lig. Hartseer oor die enorme verlies en die pad wat Johannes, Daylene en Melinda en klein Shirlene moet loop. Lig omdat ek iets in die dood sien wat lewe is. ‘n Lewe wat kom met sielsgenote en reisgenote wat die begrafniskaartjies stuur nie maar wat self daar teenwoordig is. Dit is nie stories wat iemand ‘n celebrity probeer maak nie – dis ‘n celebrity wat klaar die stories kom leef het.

Shirley is weg – maar diep teenwoordig in hulle wat agterbly. Ek dink aan die woorde: Die beste dinge in die lewe – is nie dinge nie.

Die vrou van wie daar gepraat is het almal geken.

Christaholics

deur Theo Geyser > InVia

http://www.invia.org.za/THEO-logy/

Wat is dit in kerke wat jou verbied om ‘n kleingroep by te woon indien jy nie ‘n lidmaat van die spesifieke kerk is nie? Wat is dit in kerke wat aan leiers die mag gee om hulle lidmate se lewensmaats vir hulle te kies? Wat is dit in kerke wat dit regkry dat hulle lidmate ander verkleineer en demoniseer?

Christaholics.

Dit is waar toewyding aan God ‘n verslawing word.

Professor Archibald Hart noem dwelmhandel in die kerk the quest for religious ecstasy and euphoria. Die brein bly nog steeds die grootste vervaardiger van verdowingsmiddels. Dit is waar ek my weeklikse fix of shot kry. Godsdiens gee net die regte mix. Godsdiensverslawing lyk net soos die ware Jakob. Toegewyd en vroom. Jy sal hom ook nie sommer kan teegaan nie – hy kom in bybelpakkies. Hy verwar God met godsdiens.

Verslawende geloof word gebore wanneer geloof misbruik word om ware emosies en die angs van ons bestaan te omseil. ‘n Obsessie ontwikkkel om te major in die minors. Goethe het gemeen die wêreldgeskiedenis een hooftema het: Die konflik tussen geloof en ongeloof. Paulus sou tuis voel in so opmerking want sy via was ook tussen hierdie bakens. Hy weet van oorvloed en gebrek. Van gesondheid en doring in die vlees. Van lag en huil. Van sukses en mislukkings. Dit was ook nie anders in Jesus se lewe nie. Jesus ken God se nabyheid, maar ook sy baie vêr aan ‘n kruis (Matt 27:46).

Die onvermoë om ongeloof en misterie deel van spiritualiteit te maak, veroorsaak dat daar ‘n obsessie met geloof en sekerheid ontstaan. Ons raak verslaaf aan geloof as ‘n manier om van ongeloof ontslae te raak. Daarom kan Christaholics nie sonder spesiale aansprake leef nie (omdat dit Heilige Gees-geïnspireerd is word enige meningsverskil gesien as ‘n aanval op God). Die boek Toxic Faith deur Stephen Arterburn & Jack Felton (Oliver-Nelson, 1991) is ‘n uitstekende stuk werk oor hierdie onderwerp.

Labeling is the name of the game.

In dwelmnetwerke is daar altyd die baas waaraan jy moet rapporteer – ook nie anders in godsdiens nie. Die woord submission word niks anders as ‘n sado-masochistiese verhouding waarbinne die sadis (een wat seermaak) en die masochis (een wat seergemaak wil word) mekaar binne hierdie simbiotiese verhouding verslaaf. So sal daar altyd Mugabe’s wees waar volgelinge hulle blinde lojaliteit sweer.

Enige dwelmnetwerk het ook sy gebied. Daarom is ons-versus-julle-paradigma so brilante strategie. Jy is in – of uit. Jy is vir – of teen my. Jou identiteit word bepaal deur wie jy nie is nie – daarom floreer heresy-hunting.

Christaholics kan net met geslote kommunikasie leef. Van bo na onder en van binne na buite. Verslaafdes gee nie om vir die wat buite is nie – dit gaan primêr oor wat binne is en hoe goed hulle voel.

Skole in die omgewing van Bonteheuwel het verlede week ’n week lange bewusmakingsveldtog op die internasionale dag teen dwelmmisbruik en onwettige dwelmhandel gehou.

Die kerk het so week nodig.

 

deur Theo Geyser > InVia

http://www.invia.org.za/THEO-logy/

“Die waarheid en niks minder as die volle waarheid nie”.

Dit is die woorde wat in elke hof gesê word. Wat ironies is, is dat albei partye wat mekaar dagvaar hulle beroep op waarheid. Kan waarheid twee kante hê? Dit het, vra enige tronkvoël – almal is onskuldig. Waarheid het twee kante en dis waarom daar regters is. At the end of the day, soos Naas sou sê, is dit waar waarheid beslis word. Die regter neem die besluit.

‘n Ruk gelede het ‘n meisie my goed laat verstaan dat daar net een kerk in Stellenbosch is wat die Bybel preek, en dit is $%#@!. Ek was teleurgestel omdat dit nie ons gemeente is nie. Op ‘n manier glo ek dat ons darem ook die Bybel in sy suiwerste Sola Scriptura (dit beteken net die Skrif alleen) nastreef. As ek eerlik dink oor wat ek glo en bely dan word ek bedreig deur mense wat van my verskil. Ek het ‘n arsenaal teksies wat ek kan vuur op my opponente. En ek weet, hulle het ook baie vir my. Dit het ek Saterdag weer gehoor by ‘n troue. Die klankman vertel my dat hy doen klank by ‘n sekere kerk in Stellenbosch en wil baie graag na ons toe kom, maar sy pastoor het hom ernstig vermaan van die diepe dwalinge waaraan hy blootgestel sal word. Ek het geen probleem met die vermaning nie. Ek het geen twyfel dat ek ook dwaal. Ek weet net nie altyd waar ek dwaal nie, en die feit dat ek Sola Scriptura bely maak my ook nie immuun teen dwaling nie.

Indien God werklik ontoeganklike lig bewoon (1 Tim 6:16), ondeurgrondelik en onnaspeurlik (Rom 11:33) en onuitspreeklik (2 Kor 12:4) is, raak dit riskant om God se plek te eis in die naam van Sola Scriptura. ‘n Beter vraag oor hierdie Skrifte moet seker wees: Waar moet ons die lig soek as dit ontoeganklik is? Waarom teologie probeer doen as God dan onuitspreeklik is?

Jode het die naam van God, YHWH, sonder klinkers geskryf omdat hulle bang was dat hulle ‘n fout sou maak. Daarom word die korrekte uitspraak ook onmoontlik. Ons word herinner dat die korrekte naam baie on-korrek is en op ‘n manier onmoontlik is om te sê. My soektog is binne misterie. In hierdie naam kry ek woorde waar God self die vokale word van dit wat jy probeer sê.

Die Hervorming is gebore uit die nagloed van die Verligting. Deel van die projek was om misterie te kon verklaar. Die kerk moes homself ook verwoord teen die wetenskap wat alles kon verklaar. In die naam van Sola Scriptura kon die kerk saam met die wetenskap God verstaanbaar en meer aantreklik maak. Met die Hervorming is die gesag van die institusie of kerk vervang met die gesag van die Bybel. Dit was ook die geboorte van ‘n ideologiese bloedbad en intellektuele afgodery wat die Christendom op gesnipper het in vyandige denominasionele bastions. Alles in die naam van Sola Scriptura.

Wanneer ek sê dit staan in die Bybel dan sê ek niks meer as my voorveronderstelling of aannames oor dit wat in die Bybel staan nie. My Sola Scriptura is nie God nie. Anders kan ek nooit afstand doen van enige standpunte oor God nie. Nog minder kan ek Sola Scriptura gebruik om God minder of meer te maak as wat Hy is. Ek sukkel ook met die stelling: Ek praat nou oor of van God. Ek praat eerder oor en van my verstaan van God. My verstaan van God is anders as wie God is. Die teologiese diskoers oorskry taal. Dit is ‘n taal wat in liefde uitgedruk word sonder om God deur die taal gevange te neem.

Daarom het Meister Eckhart gepraat van forsaking God for the sake of God. Of in Tillich se woorde: The God beyond God.

Ek hoop dat ek my heil in die Naam van sola scriptura kan vind. Dan sal die strewe om te interpreteer hopelik ondergeskik word aan die strewe om lief te hê.

Dit is oor liefde wat die Regter moet besluit.

« Older entries § Newer entries »