deur Theo Geyser > InVia
http://www.invia.org.za/THEO-logy/
Vandag is hartseer.
Shriley is oorlede.
Sy was 48 jaar oud – dit maak dit soveel erger. Ek weet self nie hoekom eis ek ‘n lang lewe by God nie – en hoekom ek opstandig word as die Here toelaat dat iemand se lewe geneem word nie. Ek hou nie van begrafnishou nie – dis soms plastiek. Ek onthou die opmerking van ‘n vrou oor haar man se begrafnis: Ek wens ek het die man geken waarvan hulle daar gepraat het…
Ek staan en kyk na al die mense by die huis in Vlaeberg wat langs die Vlaeberg tennisklub staan. Dit is nou ‘n kerkie. Die gemeente kon skuif uit die klaskamer van die verlate plaasskool nadat die boere van Vlaeberg ingewillig het dat Johannes die huis langs die tennisklub by hulle kon huur. Die huis kan omtrent 120 mense akkomodeer. Daar is minstes 500 mense by die begrafnis. Mense kom met busse, tax’is en elke moontlike geleentheid. Mense groet mekaar, druk mekaar en huil. Binne speel daar musiek en die gemeente sing passievol.
Die diens begin 9h00.
Hulde word aan Shirley gebring. Pastoor Williams vertel hoe Johannes en Shirley hom onder die invloed van dwelms by sy huis in Woescter kom haal het. Hy moes by hulle bly – en was baie bang vir sedepreke. Hy het nie sedepreke gekry nie maar liefde. Vandag is hy ook in die bediening. Ek hoor hoe pastoor Matroos en sy vrou vertel dat haar kinders van Shirley se melk kon drink – geld was skaars. Toe die kind die tiettie begin byt het hulle geweet die kind is nou groot genoeg. Ek hoor jou kinders is my kinders. Hulle vertel dat die tye wat daar nie kos was nie kon hulle vir Shirley en Johannes bel – die hoofdis was altyd kool met hoedermagies. Die gehoor skater van die lag – hulle ken van kool en hoendermagies. Dit was die maerjare. Pastoor Jenny Arendse vertel hoe Shirley reguit kan praat – roede met liefde was een ding. Pastoor Smith vertel dat hy kom van die country en wou nie in Johannes se huis in gaan nie – want hulle is grênd mense – net om die nederigste mense ooit te ontmoet. Pastoor Meyers se ontmoeting met Johannes en Shriley het hom na die bediening geroep. Hy vertel dat Shirley altyd lag – Sy is brights. Shirley het altyd gelag – hulle het van haar gesê… Suster jy’s op bright – dim djou lights man!! Dan sing die De Koker susters. Johannes en sy dogter Daylene bring hulde aan die wonderlikste vrou en ma in hulle lewe. Dan begin Johannes spontaan sing sonder begeleiding – die laaste lied wat hy en Shirley laas in die motor saam gesing het: “Everyday with Jesus is sweeter than the day before…”
Terwyl hy sing vloei die trane oor die wange van die gemeente. Dan begin almal saam te sing.
Ek moet preek. Ek voel die knop in my keel. Ek is geraak deur die begrafnisredes wat nie vae veralgemenings of cliché’s is nie, maar woorde wat net vriende vir mekaar kan sê – dis diep, persoonlik en intiem. Shirley het gevra vir ‘n ware Pinkster begrafnis. Ek moet my lyf Pinkster hou – ek ken van – die AGS en ander Charismatiese kerke het my goed geleer. Vir ‘n oomblik vergeet ek waar ek is en leef en voel saam met die mense wat saam met my preek met amen’s en hallelujah’s.
Na die preek kom groet die gemeente oulaas vir Shriley. Die kis word oopgemaak. Mense kom bring vir oulaas ‘n huldeblyk. Hierdie keer met ‘n soen, of ‘n streel oor Skriley se wange. Daylene en Melinda vertel my dat hulle self die lyk gewas het. Dis baie vreemd vir my – ek dink aan hoe anders Witmense met die dood omgaan. Dit is onnatuurlik en hospitale en tegnologie hanteer die dood vir die wat dit kan bekostig.
By die onthaal maak Johannes se broers musiek. Dis jazz, country en gospel op sy beste. Mense sing en lag. Spontaan neem verskillende persone die mikrofoon en sing met oorgawe. Stories Shirley word vertel – mooi stories. Ek en Wilma gesels met Johannes, Daylene en die jongste dogter, Melinda. Ons praat oor die pad wat voorlê. Daylene het werk in Dubai en haar dogtertjie, Shirlene het by Shriley en Johannes gebly. Ons wonder wie kan Shirlene se nuwe ouma word. Melinda swot B.Sc. en hoop om vir medies gekeur te word. Geld is skaars – hulle sal God moet vertrou vir ‘n wonderwerk.
Om 15h40 het ek en Wilma huistoe gegaan. Ek voel hartseer maar ook lig. Hartseer oor die enorme verlies en die pad wat Johannes, Daylene en Melinda en klein Shirlene moet loop. Lig omdat ek iets in die dood sien wat lewe is. ‘n Lewe wat kom met sielsgenote en reisgenote wat die begrafniskaartjies stuur nie maar wat self daar teenwoordig is. Dit is nie stories wat iemand ‘n celebrity probeer maak nie – dis ‘n celebrity wat klaar die stories kom leef het.
Shirley is weg – maar diep teenwoordig in hulle wat agterbly. Ek dink aan die woorde: Die beste dinge in die lewe – is nie dinge nie.
Die vrou van wie daar gepraat is het almal geken.




